TOP 5
Stem vir jou gunsteling liedjies.
Stem vir een liedjie van elke ghoeroe. Stemme is oop van Vrydag, 28 Augustus om 08:00, tot Donderdag, 3 September om 00:00. Slegs een stem per e-posadres / selfoonnommer word toegelaat. Vir 'n ekstra stem, SMS jou gunsteling deelnemer se kode na 45730.
STEMME IS GESLUIT
ANDRIËTTE NORMAN

Bittermooi Boland
Vir 'n ekstra stem,
SMS AN1 na 45730.
Lied se storie
Ons woon nou 13 jaar in die hartjie van die Boland. Nadat ons hierheen verhuis het, het ek die gedig oor die Boland geskryf. Ek wou graag die bekoring van die Boland vasvang. Kort daarna het ons dogter (Milah) begin klavier speel en sing. Op 14 het haar sangafrigter aanbeveel dat sy haar eie liedjies begin opneem. Ek en sy het een middag deur my leêr met ou gedigte gelees en toe sy Bittermooi Boland lees het sy gesê "Ma, ek wil hom sing!" Milah het die melodie op die klavier uitgewerk en later het ons die lied verder laat verwerk en opgeneem as een van haar eerste oorspronklike liedjies.
Oor die skrywer
Met Afrikaans kan ek skilder. Dit is vir my so lekker as mense saam met my die taal geniet. Ek is so lief vir ons taal en het 'n passie om jong digters en skrywers aan te moedig om kreatief daarmee om te gaan. Ons kan baie trots op Afrikaanse musiek en teater wees. Solank as wat Afrikaners skryf en sing, gaan die taal bly asemhaal, stories vertel en harte roer.
Lirieke
[Verse]
Ryp-rooi staan die wingerd,
granate in gelid,
juwele in die oggendson
sien ons hoe skitter dit.
Ek proe soet-so die somer
as die boorde wink en waai-
al die ster-beligte aande
saam kuier as ons braai.
[Chorus]
Neem my na die Boland
waar son en berg saam blom.
My hart is in die Boland
fynbos-mense, woorde stom
waar die Bergrivier die lewe stuur
en vriende gou oorkom…
Mag die bittermooi Boland
vir altyd my huis wees.
[Verse]
Na oestyd bloos die wingerd
Wynrooi wange in sy vlug.
Sprei sy goudgeel vlerke
wyd teen die hemel-lug.
Ek wag weer vir die winter
wat in wolkedons kom sit;
wanneer druppels reën
die land kom seën
en wingerd dankbaar bid.
[Chorus]
Neem my na die Boland
waar son en berg saam blom.
My hart is in die Boland
fynbos-mense, woorde stom
waar die Bergrivier die lewe stuur
en vriende gou oorkom…
Mag die bittermooi Boland
vir altyd my huis wees.
[Bridge]
Kon ek dit dink?
Kon ek dit raai?
Dat die lewe se mooiste
By my kom draai? x2
[Chorus]
Neem my na die Boland
waar son en berg saam blom.
My hart is in die Boland
fynbos-mense, woorde stom
waar die Bergrivier die lewe stuur
en vriende gou oorkom…
Mag die bittermooi Boland
vir altyd my huis wees.
[Outro]
Ryp-rooi staan die wingerd,
granate in gelid,
juwele in die oggendson
sien ons hoe skitter dit.

Sweefstap
Vir 'n ekstra stem,
SMS AN4 na 45730.
Lied se storie
Hierdie lied is nie vir iets of iemand spesifiek geskryf nie, maar is ñ kapsule van ervarings oor baie jare waar harte net gedeeltelik vir mekaar oopgemaak was. Die gevolg was spanning wat lei na heimwee en swerf.
Ek bly in ñ pragtige dorp waar die son hom gereeld ""doodbloei teen ñ krans"" en Sweefstap staan met sy voete stewig in die insperasie van alles wat mooi is om my."
Oor die skrywer
Ek skryf in Afrikaans want ek droom in Afrikaans.
Om liriek en musiek bymekaar te bring is my grootste asperasie as musikant.
Lirieke
Ek koop met soene van yster
En jy beloon my n vryval na nêrens
Ons maak n boks vol Pandoras
En laat hulle uitkom
Soos vlieërs in die wind
Waai na die uithoek
Sweefstap na kaaie
Lees deur my dagboek
Onthou daardie blaaie
Onthou dat ek lief is
Vir skemerlig saans
Bel as jy vêr voel
Vannaand
Ek vlieg op hoë spanningsdrade
En jy kom soek my n kraai in die wind
Ons maak n vuis vol beloftes
En breek hulle almal
Om eerlik te bly
Waai na die uithoek
Swerfstap na plase
Sien my portrette
Stof af daardie glase
En weet dat ek lief is
Vir skemerlig saans
Die son bloei hom dood teen n krans
Ek bel as dit rustiger gaan
Bel as jy vêr voel vannaand
WILLIAM WOLF

Straatligte
Vir 'n ekstra stem,
SMS WW2 na 45730.
Lied se storie
Die idee van die liedjie is om so bietjie van 'n storie te vertel. Deel 1, twee mense wat saam grootword, en deel 2, as hulle dan nou groot is, dan is hulle nie meer saam nie. Deel 3 is dan die gedeelte waar hulle weer klaarblyklik saam is. Dis dan nou seker die mooi van die liedjieskryf, want vir almal gaan dit iets anders beteken. My boetie het aan die begin van die jaar twee van sy beste vriende in 'n motor ongeluk verloor, en die liedjie is opgedrae aan hom. Waar die gedeelte 3 kan lyk asof die mense weer saam is, in ons geval is dit meer 'n wens vir wat kon wees. Saam grootgeword en toe eweskielik is hulle nie meer deel van alles nie, nou sien jy hulle net in alles rondom jou.
Oor die skrywer
Soos ek in my vorige inskrywing ook genoem het, Afrikaans bly maar my hart se taal. Ek is nie 'n groot verbale mense nie, so ek gebruik maar baie liedjies en woorde om myself uit te druk.
Lirieke
Vers 1:
Dit was ek en jy teen die wêreld
Ek’t my skopfiets, jy’t n swaard
Tyd stap aan en jy stap saam
Padaf, als om ons vergaan
Koor 1:
Die straatligte hoor sag "eks lief vir jou"
Kaalvoet kon ons dans, kom wat wou
Die teerpad was nat gereën maar ek onthou
Die skemer sonsak, in jou oë
Vers 2:
Grootgeword, wie’t aanbeweeg
Want die agterdeur bly toe
Nou staan ek alleen as dit donderweer
Ek en my skopfiets in die reen
Koor 2:
Die straatligte sê sag "Eks lief vir jou"
Kaalvoet het ons daar gedans maar nou
Is die teerpad nat gereen maar ek onthou
Die skemer sonsak - in jou oë
Vers 3:
Huisie vol, die kinders lag
Grootword stories word weer vertel
Jy hou my vas by die agterdeur
Die reenboog wys sommer in die reen
Koor 3:
En die straatligte kan sê "Hy's lief vir jou"
Kaalvoet dans ons saam
My harts by jou
Die teerpad is nat gereën maar kom wat wou
Die skemersonsak is in jou oë

Passie vuur
Vir 'n ekstra stem,
SMS WW4 na 45730.
Lied se storie
Somtyds, vir daai paar oomblikke, verloor mens jouself in liefde. Die oomblik moes ver-manifesteer word in iets hoorbaar, iets tasbaar
Oor die skrywer
"Sarafien (pseudoniem) is n' noem-naam wat my geliefdes my roep. My geliefdes is Afrikaans, musiek in Afrikaans vereenselwig dus beter.
Dit is soms uitdagend aangesien ons almal maar lekker ""slêng"" maar in Afrikaans is daar Hart"
Lirieke
[verse1]
Die hitte in jou hande
Jou warm vel se gloed
Begeerte in jou asem
N’ vuur wat in jou woed
My siel begin te bewe
Skeur los op pad na jou
Verloor onsself in chaos
My wese smag na jou
[pre-chorus]
Hou stil Haal asem
Laat gaan
[chorus]
weef jou siel met myne
vleg ons deur en om
laat passie vuur ons louter
ineen gesmelt tot ons net een is
klim in my en laat my in
gee my jou en vat van my
verloor onsself in chaos
en eindig in n’ nuwe begin
[pre-chorus]
Hou stil Haal asem
Laat gaan
[chorus]
weef jou siel met myne
vleg ons deur en om
laat passie vuur ons louter
ineen gesmelt tot ons net een is
klim in my en laat my in
gee my jou en vat van my
verloor onsself in chaos
en eindig in n’ nuwe begin
[bridge]
hou aan en aan
moet nooit laat gaan nie
jy word ek en ek word jy
in een geweef
so moet ons bly
[chorus-softer]
weef jou siel met myne
vleg ons deur en om
laat passie vuur ons louter
ineen gesmelt tot ons net een is
klim in my en laat my in
gee my jou en vat van my
verloor onsself in chaos
en eindig in n’ nuwe begin
[outro]
Die hitte in jou hande
Jou warm vel se gloed
Begeerte in jou asem
N’ vuur wat in jou woed
My siel begin te bewe
Skeur los op pad na jou
Verloor onsself in chaos
My wese smag na jou
DANIE DU TOIT

Eens op 'n tyd
Vir 'n ekstra stem,
SMS DD1 na 45730.
Lied se storie
Die lied handel oor 'n tyd in my lewe waar ek gedroom het oor die regte persoon in my lewe wat my werklik, opreg sou lief hê en my nie sou seer maak soos vorige verhoudings het nie...
Die lied begin waar ek terugflits na daardie tyd van weërlose Verlange en dan vanaf vers 2 sing ek oor my pragtige vrou met wie ek nou amper 2 jaar getroud is en ek deel my dankbaarheid dat ek haar gevind het en dat die Here haar vir my gestuur het!
Oor die skrywer
Ek is 'n persoon wat verskriklik lief is vir kuns in verskeie vorme! Ek glo dat ek gebore was vir kuns en ek is ongelooflik lief daarvoor om dit wat ek voel uit te beeld deur middel van skryf.
Afrikaans is my trots, dis my moedertaal en ek wil nooit hê dat dit moet uitsterf nie! Daarom wil ek goeie afrikaanse musiek neersit wat kan tref in mense se harte.
Lirieke
Vers 1
Eens op 'n tyd het ek gedroom oor jou en my
Gewonder hoe virewig sou lyk
En wat dit sou vereis om altyd lief te bly Al moet ons teen die wereld baklei
Koor
In die stiltes skryf ek stories Van 'n hand wat myne vat
En my weer laat verstaan dat die liefde geduldig wag
Ek verf jou gesig in die wolke Al ken ek nie jou naam
'n weerlose verlange ooohhh, in die wind Maar eendag sal ek jou vind
Vers 2
Vir als is daar 'n rede, 'n einde en begin
Nie net is jy my antwoord nie Jys ook alles tussenin
Jy dans met my in ritme Soos perfekte sinergie
Ek weet nie hoe ek jou ooit kon verdien
Koor
In die stiltes skryf ek stories Van jou hand wat in myne pas
Jy't my weer laat verstaan dat die liefde geduldig wag
Ek verf jou gesig in die wolke Want ek ken nou jou naam
'n weerlose verlange in die wind Want ek het jou gevind
Brug
Soos n klank, soos n asem, soos n verblindende lig
Soos n geskenk vanuit die hemel, toegdraai in goue lint
Eens op n tyd is nou verby Uiteindelik het ek jou gekry
Koor2
Nou vul jy die stiltes waar jy saam my stories skryf
Jou hand gevleg in myne
Waar jy geduld deur liefde wys Mooiste gesig net hier voor my Jou naam word my bestaan
Die verlange verdwyn in die wind
Jou liefde het my gevind

Want jy is
Vir 'n ekstra stem,
SMS DD4 na 45730.
Lied se storie
Die lied verwoord ‘n innerlike reis oor tyd. Van worsteling en onsekerheid na groei, aanvaarding en uiteindelik verwondering.
Die eerste vers gaan oor soeke en oorweldig wees deur dinge wat nie sin maak nie en waar mens deur emosies en gedagtes moet werk. Dit was soos ‘n refleksie op ‘n tyd waar ek baie bewus was van die kompleksiteit van die lewe en my eie denke.
Met die tweede vers is daar ‘n skuif na ligtheid en beweging vorentoe wat ek glo kom saam met volwassenheid. Dit spreek van groei, vrede vind en van ‘n meer bewuste keuse om vreugde en betekenis raak te sien, selfs te midde van groot veranderinge.
Die gebruik van alliterasie is iets wat ek doelbewus geniet en inspan. Dit gee ritme en spel in taal, maar help ook om die emosionele lyn tussen die twee verse te dra.
Uiteindelik gaan die lied vir my oor die besef van menslike waarde en teenwoordigheid – iets wat nie altyd volledig verwoord kan word nie, maar tog diep gevoel word…want jy is.
Oor die skrywer
Ek is 'n entrepreneur, kunsterapeut en kreatiewe fasiliteerder. Ek skryf omdat ek nie anders kan nie - dit is vir my ’n manier om sin te maak van gedagtes, emosies en ervarings oor tyd. Ek is 'n dromende denker en denkende dromer, filosoof sowel as strateeg.
Afrikaans is vir my die taal waarin ek die eerlikste en mees spontaan kan skep. Dit dra nie net my kultuur en agtergrond nie, maar ook die fyn nuanses van gevoel en ritme wat vir my belangrik is in liriek.
Wanneer ek in Afrikaans skryf, voel dit natuurlik en eg - dit gee vir my die ruimte om met klank, alliterasie en betekenis te speel op ’n manier wat vir my persoonlik sin maak.
Lirieke
Vers 1
Waarheid verwronge
in winterwoudwolke
waar wandelende wilgers
waardeloos weef.
Woed uit jou wilde
wurgende woede
waarneemend dat wense
willekeurig bewaarheid word.
Wonder bo wonder
werklik oorwerk
wissel wemelende wenke
wegend beperk.
Wakker word wipstert.
Wikkel jou wimpers.
Woeker winsgewens
weldoenend verwag
… want jy is gewis.
Vers 2
Vlam vloeiende vonke
Vleg vlugtig verhoog
Vonkeldans verwagtend
Voorwaarts verset
Vul vreesloos vertroue
Vind vrede verniet
Vooruit verlange
Verander vergeefs verdriet
Vroeg, vroeër bevrydend
Volg voorbeelde vroom
Vlei vriendelike vreemdes
Vrolik verwerk
Vladder voëlvlerke
Verdra jou vere
Verwonder voortdurend
Vreugdesoekend
Want jy is … verkwis
JOHN-HENRY OPPERMAN

Verlore
Vir 'n ekstra stem,
SMS JO2 na 45730.
Lied se storie
Die song skets ’n persoon wat vasgevang is tussen selfvernietiging en hoop—iemand wat erken hy raak maklik verlore, maar glo dis deel van sy groei; Probeer sin maak van alles, en uiteindelik besef hy dat, al is hy nie heel nie, liefde vir hom steeds die kern is. Die rede om aan te hou—selfs al beteken dit om saam met iemand anders deur die chaos te verdwaal.
Oor die skrywer
Hello span. My naam is Armand. Ek is 'n musikant my hele lewe lank en het altyd in engels gesing en skryf. Ek skryf in die' jaar want ek wil ophou iets wees wat ek nie is nie. Daarom is ek dankbaar vir 'n platform soos Skryf'it wat die geleentheid gee, sodat ek my stories met my mede afrikaners kan deel.
Lirieke
Vers 1:
In die aand ry jy in ‘n kar wat ruik na rook
Harde musiek is presies wat die siel benodig
Dit is al midderna
Ek kom jou haal, maar ek het klaar verdwaal
Sal jy vir my wag?
Koor:
Ek het myself verloor en ek voel ek verdien dit
Soms moet jy eers verloor om op te spoor wat saak maak
Vers 2:
Nog ‘n sigaret want terapie is te duur
Ek’s impulsief en soms te naïef
Of êrens in die middle
Stuur my ‘n kode
Ek is oppad en as ek weer verdwaal
Kom ons verdwaal saam
Koor:
Ek het myself verloor asof ek dit moes verdien het
Ek moes eers verloor omjou op te spoor
Kom ons verdwaal saam
Ek weet dis onnodig om te kla
Indien ek jou weer vind
Volg ek jou tot die anderkant
Brug:
Gehipnoseer deur gevoelens
Soos ‘n hopelose romantiek
Kan ons vergeet en vergewe?
Ek het my les geleer
Ek staan hier voor jou deur
Koor:
Ek het myself verloor asof ek dit moes verdien het
Ek moes eers verloor om jou op te spoor
Kom ons verdwaal saam
Dans in die geraas
Kom ons verdwaal saam
Wie sê dit is te laat?

Huistoe
Vir 'n ekstra stem,
SMS JO4 na 45730.
Lied se storie
Hierdie song gaan oor die verlange na jou huis, en ’n gevoel van behoort.
Dis n storie van iemand wat die plaas verlaat het om iets meer te gaan soek in die stad, maar uiteindelik besef dat hy homself langs die pad verloor het.
Tussen die geraas, die gejaag en oppervlakkige mense begin die herinneringe roep.
Die boodskap is dat sukses en vooruitgang nie altyd beteken jy beweeg vorentoe nie. Partykeer beteken dit jy moet teruggaan na waar jy werklik jouself was, en weer kan wees.
Oor die skrywer
Iemand wat probeer uitfigure waar ek inpas en wat eintlik saak maak.
Ek was al in n band, het al rondgesoek na betekenis, ander paaie probeer, maar op die ou end kom alles maar terug na dieselfde plek toe.
Ek kan in Engels skryf, en het al baie, maar Afrikaans voel meer eerlik en gemaklik.
Lirieke
Ek lê weer wakker in ’n rustelose stad
Neonligte wat bly flikker regdeur die nag
Mense praat net oor mekaar, maar niemand luister nie
En hoë geboue gooi lang skadu’s oor my pad
As ek stil raak, onthou ek die grond onder my voete
Daai stofpad wat my altyd huis toe lei
Nou’s dit net geraas en koue strate rondom my
En ek wens ek het eerder maar gebly
[Pre-Chorus]
Want iets diep binne my bly roep na my naam
Soos ’n huilwind wat ver oor die vlaktes waai
[Chorus]
Ek wil huistoe kom!
Waar my gedagtes kan laat vaar
Waar my hart weer asemhaal
Waar die wêreld stadig draai
Ek wil huistoe kom!
Na die dou op die gras in die vroegoggend koel...
Waar die môreson my kom haal
En alles weer eenvoudig voel
[Vers 2]
Ek sien nog Pa se ou bakkie staan
En Ma se koffie op die stoep
Daai stilte voor die dag begin
Is iets wat hierdie plek nie ken nie.
Hulle meet jou net aan wat jy kan wys
Nie aan wie jy is as niemand meer kyk.
Dis nie wie jy is nie, dis net hoe jy lyk.
Hierdie "rat race" is nie vir my nie..
[Pre-Chorus]
Ja, iets hier diep binne my bly roep na my naam
Soos ’n huilwind wat ver oor die vlaktes waai
[Chorus]
Ek wil huistoe kom!
Waar ek my gedagtes kan laat vaar
Waar my hart weer asemhaal
Waar die wêreld stadig draai
Ek wil huistoe kom!
Na die dou op die gras in die vroegoggend koel...
Waar die môreson my kom haal
En alles weer eenvoudig voel
[Bridge]
Miskien het ek te ver geloop
Miskien het ek myself verloor
In drome wat nooit myne was nie
Op grys paaie wat nie spore los nie.
Maar ek weet nog waar my huis lê
En ek onthou nog daai afdraaipad
Al vat dit alles wat ek het om terug te gaan
Terug na my huis, ver van die stad
[Final Chorus]
Ek wil huistoe kom!
Na daai stilte wat my siel verstaan
Waar my hart weer asemhaal
Waar die wêreld stadig draai
Ek wil huistoe kom!
Waar die môreson my kom haal.
Waar die reën weer op my kan val
Waar my hart.. kan rustig raak.
[Outro]
Ja… ek wil huistoe kom…
ek gaan huistoe kom…
AMPIE

Geraas
Vir 'n ekstra stem,
SMS AD1 na 45730.
Lied se storie
"Ek was lus vir iets anders as wat ek gewoonlik skryf en opneem en ek was moeg vir liefdesliedjies.
Met geweldige ADHD probleme, het dit my op 'n stadium bygeval dat ek nog nooit 'n lied gehoor het wat juis oor dit gaan nie.
Die hele lied gaan oor my verhouding met ADHD - van die sleutel en tempo van die musiek, tot die lirieke. In die tweede vers na die eerste koorgedeelte, sing ek oor 'n spesifieke verskynsel. Daar sou 'n derde vers wees, maar musikaal het dit nie sin gemaak nie. Dit is die ""Hei! Daar's 'n eekhoring"" oomblik waarmee baie mense met ADHD spot.
Geraas gaan oor die innerlike uitdagings wat 'n bietjie minder ernstig uitgebeeld word.
Ek is lief vir rock en pop-punk musiek en het elemente van beide gehou terwyl dit in D-Majeur geskryf is in 'n Indie-Rock styl."
Oor die skrywer
"Ek is 'n 32 jarige musikant woonagtig in Nelspruit. Na ek as kind baie saam my ouers rondverhuis het, het ek klankingenieurswese studeer by die Academy of Sound Engineering waar ek my BSc verwerf het. Ek was by skole betrokke in die Kultuur-afdeling en het in 2023 by Radio Laeveld 100.5FM aangesluit. Ek is die klankingenieur en 'n omroeper.
Afrikaans is iets wat ek as baie eg beskou. Daar is baie gevoelens en emosies wat ek slegs in Afrikaans kan uitbeeld. Dit is die taal waarin ek droom, lag en leef."
Lirieke
Verse 1
Nag se drade sing sag teen die muur
Die stad hou asem op
ons twee oordink.
Elke boodskap trek my net meer vas
Ons rook aan tyd, maar ek noem jou nog myne.
Pre-Chorus
ons bly net voor
speel dit oor en oor
Chorus
Maar die geraas hou ons aan die beweeg.
In die donker kyk ons harte mekaarskeef.
Al die klanke druk ons verder
Seine breek, maar jy bly nader
Verse 2
Neon weerkaats teen nat teer
Elke tree vra nóg ’n keer
Jy hardloop vorentoe, ek struikel agterna
Maar iewers bots ons.
Dit reën…
Pre-Chorus
ons bly net voor speel dit oor en oor
Chorus
Maar die geraas hou ons aan die beweeg
In die donker kyk ons harte mekaarskeef
Al die klanke druk ons verder
Seine breek, maar jy bly nader
Bridge
Ek hardloop deur die drade, deur die nag
Elke fout laat ons lag
moet dit nie stop nie, nee, nee, nee
Chorus
Maar die geraas hou ons aan die beweeg
In die donker kyk ons harte mekaarskeef
Al die klanke druk ons verder
Seine breek, maar jy bly nader

In Die Donker
Vir 'n ekstra stem,
SMS AD4 na 45730.
Lied se storie
Hierdie lied gaan oor liefde, oud-word saam, die kosbaarheid van jou geheue.
Oor die skrywer
"Ons is Skadulyn (voorheen Pyplyn), 'n musiekale duo oorspronklik vanaf PE, bestaande uit Ignus Kritzinger en Dirk Crafford. Ons het ons musikale wortels gevestig in die klanke van Leonard Cohen, Koos Du Plessis en Simon & Garfunkel, kunstenaars wat bekend is vir hul poëtiese diepgang en introspektiewe lirieke. Wat as ’n passie vir egte, liriekgedrewe musiek begin het, het vinnig ontwikkel tot ’n missie: om ’n stem te gee aan die stilte wat ons in hedendaagse Afrikaanse musiek ervaar het. Skadulyn neem sterk standpunt in teen die oppervlakkige gebruik van Engels in Afrikaanse liedjies bloot vir kommersiële aanloklikheid. Ons is trots om onsself 100% Afrikaans te noem. Nie net in taal nie, maar in hart en siel.
As universiteitstudente het ons ons kitare geneem na enige plek waar iemand sou luister, kroeë, studentesentrums, klein venues en met tyd het ons ons plek begin vind in die breër musiektoneel. Ons was finaliste in die landwye ATKV-liedjieskryfkompetisie en het ook die verhoog gedeel by KKNK, een van Suid-Afrika se voorste kunstefeeste. Een van die hoogtepunte in ons vroeë loopbaan was om saam te werk en op te tree met die legendariese Stef Kruger, die man agter talle treffers van Suid-Afrikaanse ikoon Dozi.
Skadulyn is nie net ’n musiekgroep nie, ons is ’n refleksie van ’n generasie wat smag na betekenis. Met donker klanke, eerlike lirieke en ’n liefde vir taal, skep ons musiek wat bly spook lank nadat die laaste akkoord gespeel het."
Lirieke
VERS 1
Iewers in die donker hoor ek jou my naam fluister,
Soos ’n tarentaal se roep, soos reëndruppels se luister.
Ek los note op die spieël, skryf my naam in die stof,
Bind ’n lint om my vinger, maar tyd raak ons tog nog.
Die dae glip verby soos water, die jare soos ’n gety,
Maar ek weet jy sal wag, ek weet jy sal bly.
Ja, ek weet jy sal wag, ek weet jy sal bly.
CHORUS
As ek my naam vergeet, sal jy dit weer vir my gee?
Soos die wind deur die bome, soos ’n lied vir net ons twee
As my gedagtes dwaal, as die kamer te groot voel,
Sal jy my nader trek — sal jy my sê wat jy bedoel?
VERS 2
Ek vergeet die seisoene, maar ek onthou jou gesig,
Die lag in jou stem, en jou asem so lig.
Jy sing in die kombuis, ’n wysie van outyd,
En ek volg daai klank, maar ek raak jou kwyt.
Ja, ek volg daai klank, maar ek raak jou kwyt.
CHORUS
As ek my naam vergeet, sal jy dit vir my gee?
Soos die wind deur die bome, soos ’n golf in die see.
As ek my naam vergeet, sal jy dit vir my gee?
Soos ’n gebed in die môre, soos ’n golf in die see.
As ek my naam vergeet, sal jy dit vir my gee?
Soos ’n gebed in die môre, soos ’n golf in die see.
