finale stemrondte

Stem vir jou gunsteling liedjie.

Stem vir een liedjie. Stemme is oop van Vrydag, 𝟭𝟴 𝗦𝗲𝗽𝘁𝗲𝗺𝗯𝗲𝗿 om 08:00, tot Dinsdag, 𝟮𝟮 𝗦𝗲𝗽𝘁𝗲𝗺𝗯𝗲𝗿 om 00:00. Slegs een stem per e-posadres / selfoonnommer word toegelaat. Vir 1 ekstra stem, SMS jou gunsteling deelnemer se kode na 45730. (Slegs 1 SMS-stem per nommer sal geldig wees)

STEM HIER

Voltooi jou inligting en stem

Finale Stemrondte

Milah en Aniel Redelinghuys & Andriëtte Norman

Bittermooi Boland

by Milah en Aniel Redelinghuys & Andriëtte Norman

Vir 'n ekstra stem,

SMS AN1 na 45730.

Lied se storie

Ons woon nou 13 jaar in die hartjie van die Boland. Nadat ons hierheen verhuis het, het ek die gedig oor die Boland geskryf. Ek wou graag die bekoring van die Boland vasvang. Kort daarna het ons dogter (Milah) begin klavier speel en sing. Op 14 het haar sangafrigter aanbeveel dat sy haar eie liedjies begin opneem. Ek en sy het een middag deur my leêr met ou gedigte gelees en toe sy Bittermooi Boland lees het sy gesê "Ma, ek wil hom sing!" Milah het die melodie op die klavier uitgewerk en later het ons die lied verder laat verwerk en opgeneem as een van haar eerste oorspronklike liedjies.

Oor die skrywer

Met Afrikaans kan ek skilder. Dit is vir my so lekker as mense saam met my die taal geniet. Ek is so lief vir ons taal en het 'n passie om jong digters en skrywers aan te moedig om kreatief daarmee om te gaan. Ons kan baie trots op Afrikaanse musiek en teater wees. Solank as wat Afrikaners skryf en sing, gaan die taal bly asemhaal, stories vertel en harte roer.

Lirieke

[Verse]
Ryp-rooi staan die wingerd,
granate in gelid,
juwele in die oggendson
sien ons hoe skitter dit.
Ek proe soet-so die somer
as die boorde wink en waai-
al die ster-beligte aande
saam kuier as ons braai.

[Chorus]
Neem my na die Boland
waar son en berg saam blom.
My hart is in die Boland
fynbos-mense, woorde stom
waar die Bergrivier die lewe stuur
en vriende gou oorkom…
Mag die bittermooi Boland
vir altyd my huis wees.

[Verse]
Na oestyd bloos die wingerd
Wynrooi wange in sy vlug.
Sprei sy goudgeel vlerke
wyd teen die hemel-lug.
Ek wag weer vir die winter
wat in wolkedons kom sit;
wanneer druppels reën
die land kom seën
en wingerd dankbaar bid.

[Chorus]
Neem my na die Boland
waar son en berg saam blom.
My hart is in die Boland
fynbos-mense, woorde stom
waar die Bergrivier die lewe stuur
en vriende gou oorkom…
Mag die bittermooi Boland
vir altyd my huis wees.

[Bridge]
Kon ek dit dink?
Kon ek dit raai?
Dat die lewe se mooiste
By my kom draai?  x2

[Chorus]
Neem my na die Boland
waar son en berg saam blom.
My hart is in die Boland
fynbos-mense, woorde stom
waar die Bergrivier die lewe stuur
en vriende gou oorkom…
Mag die bittermooi Boland
vir altyd my huis wees.

[Outro]
Ryp-rooi staan die wingerd,
granate in gelid,
juwele in die oggendson
sien ons hoe skitter dit.

Lienke Viljoen & William Wolf

Vir 'n ekstra stem,

SMS WW2 na 45730.

Lied se storie

Die idee van die liedjie is om so bietjie van 'n storie te vertel. Deel 1, twee mense wat saam grootword, en deel 2, as hulle dan nou groot is, dan is hulle nie meer saam nie. Deel 3 is dan die gedeelte waar hulle weer klaarblyklik saam is. Dis dan nou seker die mooi van die liedjieskryf, want vir almal gaan dit iets anders beteken. My boetie het aan die begin van die jaar twee van sy beste vriende in 'n motor ongeluk verloor, en die liedjie is opgedrae aan hom. Waar die gedeelte 3 kan lyk asof die mense weer saam is, in ons geval is dit meer 'n wens vir wat kon wees. Saam grootgeword en toe eweskielik is hulle nie meer deel van alles nie, nou sien jy hulle net in alles rondom jou.

Oor die skrywer

Soos ek in my vorige inskrywing ook genoem het, Afrikaans bly maar my hart se taal. Ek is nie 'n groot verbale mense nie, so ek gebruik maar baie liedjies en woorde om myself uit te druk.

Lirieke

Vers 1:
Dit was ek en jy teen die wêreld
Ek’t my skopfiets, jy’t n swaard
Tyd stap aan en jy stap saam
Padaf, als om ons vergaan

Koor 1:
Die straatligte hoor sag "eks lief vir jou"
Kaalvoet kon ons dans, kom wat wou
Die teerpad was nat gereën maar ek onthou
Die skemer sonsak, in jou oë

Vers 2:
Grootgeword, wie’t aanbeweeg
Want die agterdeur bly toe
Nou staan ek alleen as dit donderweer
Ek en my skopfiets in die reen

Koor 2:
Die straatligte sê sag "Eks lief vir jou"
Kaalvoet het ons daar gedans maar nou
Is die teerpad nat gereen maar ek onthou
Die skemer sonsak - in jou oë

Vers 3:
Huisie vol, die kinders lag
Grootword stories word weer vertel
Jy hou my vas by die agterdeur
Die reenboog wys sommer in die reen

Koor 3:
En die straatligte kan sê "Hy's lief vir jou"
Kaalvoet dans ons saam
My harts by jou
Die teerpad is nat gereën maar kom wat wou
Die skemersonsak is in jou oë

Ruan Jordaan & Danie “Reënwolf” du Toit

Eens op 'n tyd

by Ruan Jordaan & Danie “Reënwolf” du Toit

Vir 'n ekstra stem,

SMS DD1 na 45730.

Lied se storie

Die lied handel oor 'n tyd in my lewe waar ek gedroom het oor die regte persoon in my lewe wat my werklik, opreg sou lief hê en my nie sou seer maak soos vorige verhoudings het nie...

Die lied begin waar ek terugflits na daardie tyd van weërlose Verlange en dan vanaf vers 2 sing ek oor my pragtige vrou met wie ek nou amper 2 jaar getroud is en ek deel my dankbaarheid dat ek haar gevind het en dat die Here haar vir my gestuur het!

Oor die skrywer

Ek is 'n persoon wat verskriklik lief is vir kuns in verskeie vorme! Ek glo dat ek gebore was vir kuns en ek is ongelooflik lief daarvoor om dit wat ek voel uit te beeld deur middel van skryf.

Afrikaans is my trots, dis my moedertaal en ek wil nooit hê dat dit moet uitsterf nie! Daarom wil ek goeie afrikaanse musiek neersit wat kan tref in mense se harte.

Lirieke

Vers 1
Eens op 'n tyd het ek gedroom oor jou en my
Gewonder hoe virewig sou lyk
En wat dit sou vereis om altyd lief te bly Al moet ons teen die wereld baklei

Koor
In die stiltes skryf ek stories Van 'n hand wat myne vat
En my weer laat verstaan dat die liefde geduldig wag
Ek verf jou gesig in die wolke Al ken ek nie jou naam
'n weerlose verlange ooohhh, in die wind Maar eendag sal ek jou vind

Vers 2
Vir als is daar 'n rede, 'n einde en begin
Nie net is jy my antwoord nie Jys ook alles tussenin
Jy dans met my in ritme Soos perfekte sinergie
Ek weet nie hoe ek jou ooit kon verdien

Koor
In die stiltes skryf ek stories Van jou hand wat in myne pas
Jy't my weer laat verstaan dat die liefde geduldig wag
Ek verf jou gesig in die wolke Want ek ken nou jou naam
'n weerlose verlange in die wind Want ek het jou gevind

Brug
Soos n klank, soos n asem, soos n verblindende lig
Soos n geskenk vanuit die hemel, toegdraai in goue lint
Eens op n tyd is nou verby Uiteindelik het ek jou gekry

Koor2
Nou vul jy die stiltes waar jy saam my stories skryf
Jou hand gevleg in myne
Waar jy geduld deur liefde wys Mooiste gesig net hier voor my Jou naam word my bestaan
Die verlange verdwyn in die wind
Jou liefde het my gevind

Christiaan Louw & John-Henry Opperman

Vir 'n ekstra stem,

SMS JO4 na 45730.

Lied se storie

Hierdie song gaan oor die verlange na jou huis, en ’n gevoel van behoort.

Dis n storie van iemand wat die plaas verlaat het om iets meer te gaan soek in die stad, maar uiteindelik besef dat hy homself langs die pad verloor het.

Tussen die geraas, die gejaag en oppervlakkige mense begin die herinneringe roep.

Die boodskap is dat sukses en vooruitgang nie altyd beteken jy beweeg vorentoe nie. Partykeer beteken dit jy moet teruggaan na waar jy werklik jouself was, en weer kan wees.

Oor die skrywer

Iemand wat probeer uitfigure waar ek inpas en wat eintlik saak maak.

Ek was al in n band, het al rondgesoek na betekenis, ander paaie probeer, maar op die ou end kom alles maar terug na dieselfde plek toe.

Ek kan in Engels skryf, en het al baie, maar Afrikaans voel meer eerlik en gemaklik.

Lirieke

Ek lê weer wakker in ’n rustelose stad
Neonligte wat bly flikker regdeur die nag
Mense praat net oor mekaar, maar niemand luister nie
En hoë geboue gooi lang skadu’s oor my pad

As ek stil raak, onthou ek die grond onder my voete
Daai stofpad wat my altyd huis toe lei
Nou’s dit net geraas en koue strate rondom my
En ek wens ek het eerder maar gebly

[Pre-Chorus]
Want iets diep binne my bly roep na my naam
Soos ’n huilwind wat ver oor die vlaktes waai

[Chorus]
Ek wil huistoe kom!
Waar my gedagtes kan laat vaar
Waar my hart weer asemhaal
Waar die wêreld stadig draai

Ek wil huistoe kom!
Na die dou op die gras in die vroegoggend koel...
Waar die môreson my kom haal
En alles weer eenvoudig voel

[Vers 2]
Ek sien nog Pa se ou bakkie staan
En Ma se koffie op die stoep
Daai stilte voor die dag begin
Is iets wat hierdie plek nie ken nie.

Hulle meet jou net aan wat jy kan wys
Nie aan wie jy is as niemand meer kyk.
Dis nie wie jy is nie, dis net hoe jy lyk.
Hierdie "rat race" is nie vir my nie..

[Pre-Chorus]
Ja, iets hier diep binne my bly roep na my naam
Soos ’n huilwind wat ver oor die vlaktes waai

[Chorus]
Ek wil huistoe kom!
Waar ek my gedagtes kan laat vaar
Waar my hart weer asemhaal
Waar die wêreld stadig draai

Ek wil huistoe kom!
Na die dou op die gras in die vroegoggend koel...
Waar die môreson my kom haal
En alles weer eenvoudig voel

[Bridge]
Miskien het ek te ver geloop
Miskien het ek myself verloor
In drome wat nooit myne was nie
Op grys paaie wat nie spore los nie.

Maar ek weet nog waar my huis lê
En ek onthou nog daai afdraaipad
Al vat dit alles wat ek het om terug te gaan
Terug na my huis, ver van die stad

[Final Chorus]
Ek wil huistoe kom!
Na daai stilte wat my siel verstaan
Waar my hart weer asemhaal
Waar die wêreld stadig draai

Ek wil huistoe kom!
Waar die môreson my kom haal.
Waar die reën weer op my kan val
Waar my hart.. kan rustig raak.

[Outro]
Ja… ek wil huistoe kom…
ek gaan huistoe kom…

 

Coenie Naudé & Ampie du Preez

Vir 'n ekstra stem,

SMS AD1 na 45730.

Lied se storie

"Ek was lus vir iets anders as wat ek gewoonlik skryf en opneem en ek was moeg vir liefdesliedjies.
Met geweldige ADHD probleme, het dit my op 'n stadium bygeval dat ek nog nooit 'n lied gehoor het wat juis oor dit gaan nie.

Die hele lied gaan oor my verhouding met ADHD - van die sleutel en tempo van die musiek, tot die lirieke. In die tweede vers na die eerste koorgedeelte, sing ek oor 'n spesifieke verskynsel. Daar sou 'n derde vers wees, maar musikaal het dit nie sin gemaak nie. Dit is die ""Hei! Daar's 'n eekhoring"" oomblik waarmee baie mense met ADHD spot.

Geraas gaan oor die innerlike uitdagings wat 'n bietjie minder ernstig uitgebeeld word.

Ek is lief vir rock en pop-punk musiek en het elemente van beide gehou terwyl dit in D-Majeur geskryf is in 'n Indie-Rock styl."

Oor die skrywer

"Ek is 'n 32 jarige musikant woonagtig in Nelspruit. Na ek as kind baie saam my ouers rondverhuis het, het ek klankingenieurswese studeer by die Academy of Sound Engineering waar ek my BSc verwerf het. Ek was by skole betrokke in die Kultuur-afdeling en het in 2023 by Radio Laeveld 100.5FM aangesluit. Ek is die klankingenieur en 'n omroeper.

Afrikaans is iets wat ek as baie eg beskou. Daar is baie gevoelens en emosies wat ek slegs in Afrikaans kan uitbeeld. Dit is die taal waarin ek droom, lag en leef."

Lirieke

Verse 1
Nag se drade sing sag teen die muur
Die stad hou asem op
ons twee oordink.
Elke boodskap trek my net meer vas
Ons rook aan tyd, maar ek noem jou nog myne. 

Pre-Chorus
ons bly net voor
speel dit oor en oor 

Chorus
Maar die geraas hou ons aan die beweeg.
In die donker kyk ons harte mekaarskeef.
Al die klanke druk ons verder
Seine breek, maar jy bly nader

Verse 2
Neon weerkaats teen nat teer
Elke tree vra nóg ’n keer
Jy hardloop vorentoe, ek struikel agterna
Maar iewers bots ons.
Dit reën…

Pre-Chorus
ons bly net voor speel dit oor en oor 

Chorus
Maar die geraas hou ons aan die beweeg
In die donker kyk ons harte mekaarskeef
Al die klanke druk ons verder
Seine breek, maar jy bly nader

Bridge
Ek hardloop deur die drade, deur die nag
Elke fout laat ons lag
moet dit nie stop nie, nee, nee, nee 

Chorus
Maar die geraas hou ons aan die beweeg
In die donker kyk ons harte mekaarskeef
Al die klanke druk ons verder
Seine breek, maar jy bly nader